Ridder

Standbeeld van 'n ridder in Sacré-Cœur.

Die term ridder (Latyn: eques, Frans: chevalier, Italiaans: cavaliere, Spaans: caballero, Engels: knight, Duits: Ritter) verwys na die adellike, weerbare volgelinge van 'n koning of 'n ander heerser. Die ridderstand was oorspronklik toeganklik vir alle adellikes wat diensplig gedoen het, welvarend was en aan sekere sedelike en militêre vereistes voldoen het. Gepaste kandidate is tydens 'n formele plegtigheid, die sogenaamde ridderslag, deur die heerser verhef tot die ridderstand.

Sedert die 13de eeu vorm die ridders in Europa 'n erflike stand. In militêre opsig maak ridders altyd deel uit van die berede strydmag, die kavallerie (afgelei van Vulgêrlatyn caballus "perd" en caballarius "gewapende ruiter"). Die Afrikaanse, Nederlandse en Duitse terme ridder en Ritter is dan ook etimologies nou verwant aan ruiter en Reiter, net soos die Romaanse terme chevalier, cavaliere en caballero.


Developed by StudentB